Ofm: Nuwe gebou dui op vertroue in toekoms van media

’n Doelbewuste strategie is gevolg om te verseker dat enige ekonomiese voordeel wat uit hierdie projek sou spruit, in die plaaslike ekonomie sou terugvloei.

“Ons het sover as moontlik probeer om plaaslike diensverskaffers in die bouproses te gebruik, soos plaaslike argitekte, bourekenaars, boukontrakteurs en selfs subkontrakteurs.”

Hy is vol lof vir die plaaslike kundigheid wat verseker het dat die projek binne begroting en betyds voltooi word.

Die gebou, wat volgens die nuutste omgewingsvriendelike beginsels deur Roodt-argitekte ontwerp is, het heelwat energiebesparende kenmerke.

“Ons maak sover as moontlik van natuurlike beligting gebruik, met groot, dubbelgeglasuurde vensters aan albei kante van die gebou. Dit verseker dat die temperatuur so ekonomies moontlik beheer word.”

Geen bome is uitgehaal vir die ontwikkeling nie en tussen 30 tot 40 bome sal op die terrein geplant word, waar die tuinuitleg met inheemse plante gedoen word.

Stroebel sê personeel sien uit daarna om die nuwe uitsaai- en produksie-ateljees te betrek, wat twee uitsaai-geriewe asook drie moderne produksie-ateljees insluit wat hulle self ontwerp en ingerig het.

“Voorheen was ateljees maar soos laslappies bygevoeg, maar hierdie keer is alles wat ons vanuit ’n uitsaai-perspektief installeer, splinternuut.”

Hy is positief oor die toekoms van die mediabedryf, maar waarsku dat verbruikers toenemend die wyse sal voorskryf waarop hulle die nuus wil verbruik.

Die uitdaging vir mediamaatskappye is om op die hoogte van die jongste inhoudsneigings te wees en te verstaan wat benodig word om verbruikers se behoeftes te bevredig, eerder as om te konsentreer op ’n verspreidingsmodel.

“Dit gaan nie meer saak maak of nuus op papier, op die skerm van jou foon of op die radio oorgedra word nie, dis die inhoud wat die deurslag gaan gee.”

http://www.netwerk24.com/sake/2015-04-08-ofm-nuwe-gebou-dui-op-vertroue-in-toekoms-van-media

Please follow and like us: