Groot trokke straks gou van paaie verbied in spitsverkeer

Die departement van vervoer beoog ’n nuwe regulasie wat vragmotors met ’n gewig van meer as 9 000 kg verbied om in spitstydverkeer op die pad te wees.

Dipuo Peters, minister van vervoer, het gesê beperkings op kommersiële vragmotors, soos dié wat diesel en boumateriaal vervoer, sal moontlik die padsterftes op Suid-Afrikaanse paaie verminder.

Die publiek en belanghebbendes sal later vanjaar kan kommentaar lewer op die voorgestelde regulasies.

“Die regulasies is in reaksie tot die stygende syfer van mense wat op ons paaie sterf en die noodlottige botsings tussen vragmotors en ligte voertuie,” het sy gesê.

Volgens die voorgestelde regulasies kan ’n goederevragmotor met ’n bruto voertuigmassa van meer as 9 000 kg nie op openbare paaie tussen die tye 17:00 tot 20:00 en 06:00 tot 09:00 wees nie.

Dié soort vragmotors word slegs op vakansiedae van die regulasie vrygestel.

Daar word egter voorsiening gemaak vir nooddiensvoertuie.

“Hierdie bepaling is nie van toepassing in die geval van noodgevalle nie. Die bestuurder van ’n brandbestrydingsvoertuig of ambulansvragmotors wat groot getalle pasiënte vervoer, sal nie van toepassing wees nie.

Ismael Mnisi, woordvoerder van die departement, het gesê die regulasies is in “konsepvorm” en sal in die parlement voorgelê word, waarna die publiek insette kan lewer.

“Die departement hoop om die voorgestelde regulasies teen die einde van 2015 te implementeer.”

Gavin Kelly, tegniese bestuurder by die Suid-Afrikaanse Padvragvereniging, het gesê die voorgestelde regulasies is baie kommerwekkend.

“Dit onderstreep die wanopvatting dat vragmotors die primêre oorsaak van massiewe ongelukke op paaie is.

“Die onlangse ongeluk tussen ’n vragmotor en minister Collins Chabane se amptelik voertuig kan dit gerieflik maak om vragmotors die skuld te gee. Maar die minister se voertuig het teen sowat 200 km/h gejaag,” het Kelly gesê.

“Die minister (Peters) se besluit om vragmotors se beweging tussen die voorgestelde tye en op die voorgestelde dae te beperk, moet verduidelik word. Dit is belangrik dat die minister redes of inligting verskaf wat haar besluit ondersteun. Die minister moes sekerlik die impak op die verkeersvloei en die toename in die veiligheid oor hierdie ure nagevors het,” het hy gesê.

http://www.netwerk24.com/nuus/2015-04-16-groot-trokke-straks-gou-van-paaie-verbied-in-spitsverkeer

Please follow and like us: