Invoer-draak dreig vir mielies en koring

  

Ligte reën op plekke in die laaste twee weke was nie genoeg om ’n betekenisvolle verskil aan die mielie-oes te maak nie, meen Graan SA.

Die jongste ramings oor hoeveel mielies ingevoer sal moet word, wissel van 600 000 ton, die amptelike minimum skatting deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), tot 935 000 ton, Graan SA se nuutste skatting.

Die NLBR het in sy amptelike skatting bygevoeg dat ’n bykomende 300 000 ton geel mielies dalk ingevoer sal moet word as daar nie genoeg wit mielies vir die veevoermark is nie.

Graan SA het op 16 Maart sy aanvanklike invoer-raming van 1,65 miljoen ton tot die nuutste geskatte 935 000 ton verlaag, maar waarsku dat baie nog kan gebeur wat die uiteindelike invoerbehoefte kan verhoog of verlaag. Dit sluit onder meer die vroeë lewerings in Maart en April 2016 in. Dié syfer is tradisioneel wisselvallig, en het die afgelope tien jaar van so min as 90 000 ton tot so veel as 840 000 ton gewissel.

Waar ook al die finale invoersyfer te staan kom; die kans is baie goed dat dit in die komende maande groot druk op die plaaslike infrastruktuur, van die hawens tot by die meulens, gaan plaas.

Die vorige keer wat ’n hoeveelheid mielies van soortgelyke omvang ingevoer moes word, was agt jaar gelede (2007/’08), toe invoere vir die bemarkingsjaar uiteindelik 1,12 miljoen ton beloop het.

Die groot probleem is dat Suid-Afrika vanjaar waarskynlik die grootste hoeveelheid koring nóg – saam met hierdie mielies – sal moet invoer.

Die Nasionale Oesskattingkomitee se tweede produksieskatting van vanjaar se somer-oeste is op Woensdag 25 Maart. 

http://landbou.com/nuus/invoer-draak-dreig-vir-mielies-en-koring/

Please follow and like us: