Paasnaweek-eina! Só styg petrol, diesel en gas op 1 April
Jan Tuisbly se karretjie het lank laas so aanloklik gelyk. ’n Liter 95-oktaan-petrol styg Woensdag op die vooraand van dié Paasnaweek met R1,60 aan die kus en met R1,62 in Gauteng.
Daarvan is 80,5c die gesamentlike styging van die brandstofheffing en die Padongelukfondsheffing wat in Februarie in die begrotingsrede aangekondig is.
Petrol in Gauteng styg met meer weens ’n verhoging in die heffing wat vir Transnet se pypleidings moet betaal.
Die groothandelprys van diesel is aan die kus R1,21 per liter meer vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% en R1,23 meer vir 0,005%-diesel. In die binneland is die stygings R1,23 en R1,25.
Gas word met 85c per kilogram duurder.
Sowat tweederdes van die styging – uitgesluit die hoër heffings – kan verklaar word deur die styging van internasionale brandstofpryse in die maand. Brent-ruolie het in die maand grootliks onder $60 per vat gebly, maar dit was steeds hoër as in Maart, toe dit baie nader aan $52 per dollar gehuiwer het.
Die res is die skuld van die rand, wat op 13 Maart sy laagtepunt van R12,53 teenoor die dollar behaal het en steeds naby R12/$ verhandel.
Ondanks dié styging is dit steeds meer as R1,50 (binneland) of R1,52 (kus) per liter goedkoper as in April 2014 om vir die langnaweek weg te glip.
95-oktaan-petrol kos nou R12,89 per liter in Gauteng en R12,46 aan die kus. Diesel (0,05% swael) kos R11,23 per liter in Gauteng en R10,90 per liter aan die kus.
Die stygings van Maart en April is dalk nie die einde van brandstofprysstygings vanjaar nie. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag herhaaldelik klem gelê op die gevaar dat die rand vanjaar verder sal verswak.
Dit is omdat die VSA na verwagting vanjaar rentekoerse sal verhoog, wat kapitaalvloei uit Suid-Afrika kan meebring.
Midde-Oosterse konflik het dié week ’n tydelike styging in die olieprys meegebring, maar ontleders bly seker dat die olieprys betreklik laag sal bly vanjaar weens die groot oormaat olie wat in die wêreldmark geproduseer word. Dít sal na verwagting eers teen die einde van die jaar verminder soos wat Amerikaanse skaliegasprodusente baie geleidelik produksie verminder.