Invoer van graan

Groot druk kan binnekort op Suid-Afrikaanse infrastruktuur, van die hawens tot by die meulens, geplaas word as die land groot hoeveelhede koring én mielies moet invoer.

Weens die huidige droogte kan die land ’n tekort aan witmielies (ons grootste stapelvoedsel) hê, en Graan SA se nuutste skatting is dat ongeveer ’n miljoen ton ingevoer sal moet word.

Die probleem, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, is dat dié invoer eenrigtingverkeer die heelpad van die hawens tot in die binneland beteken.

“Gewoonlik reis die treine of vragmotors met koring van die hawens tot by die meulens, en dan word die leë waens en trokke met uitvoermielies volgemaak vir die terugreis. Maar nou kan ’n bottelnek by die hawe ontstaan,” het De Villiers vandeesweek op ’n landbouwerksessie van Standard Bank in Bloemfontein gesê.

Hy het sowat ’n maand gelede die Durbanse hawe besoek en sê die verouderde hawe-infrastruktuur skep probleme om groot hoeveelhede ingevoerde graan te hanteer.

“Weens uitdagings met hawe-instandhouding is hawens 30 cm vlakker. Dit beteken ’n skip van 45 000 ton kan nie meer die hawe ingaan nie. Die grootste skip wat ons kan laai, sal 30 000 ton kan dra.

“Dit sal aansienlik duurder wees en dit sal ook langer duur om die vrag af te laai.”

Die vorige keer dat soveel mielies ingevoer moes word, was in 2007-’08, toe invoer uiteindelik 1,12 miljoen ton beloop het.

Oor werkskepping in die bedryf meen hy daar is dalk reeds tekens dat die minister van grondsake, Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel – dat kommersiële boere die helfte van hul plase aan hul werknemers moet oordra – negatiewe gevolge vir indiensneming het.

Hy wys daarop dat indiensneming sedert 2011 gestyg het. “In dié jaar is daar begin om aktief uitvoermarkte vir ons mielies te kry, en boere is aangemoedig om meer mielies te plant. Teen 2013 het dié indiensneming ’n hoogtepunt bereik en skielik weer begin daal (sien grafiek hierby.)

“Ek het nog nie ’n behoorlike ontleding van die redes vir die daling gedoen nie, maar in Augustus 2013 was dit die eerste keer dat minister Nkwinti gesê het boere moet die helfte van hul plaas met hul werkers deel.”

De Villiers sê hoewel Nkwinti agterna gesê het die voorstel was bloot ’n manier om die gesprek met kommersiële boere aan die gang te sit, het dit “teen ’n groot prys gekom en ons vra vandag waar is daardie werkgeleenthede heen?”

Oor die huidige seisoen se vooruitsigte het De Villiers gesê hoewel reën steeds ’n verbetering kan bring, kan die opbrengs steeds laer as verwag wees.

“Ons sal eers moet sien hoeveel koppe het weens die hitte nie bestuif nie, en die oesskattingskomitee sal baie mooi moet dink oor sy opbrengsskatting.”

Dié komitee se volgende produksieskatting vir vanjaar se somer-oeste is op Woensdag 25 Maart.

Die huidige droogte kom ook op ’n slegte tyd vir die mielie-uitvoermark nadat daar langer as vier jaar onderhandel is om uitvoerkontrakte vir mielies na China te kry.

“Ons het geen ander keuse nie as om genoeg oorsese kopers vir ons mielies te werf sodat die binnelandse mark kan stabiliseer.”

Maar die bedryf sou verkies om eerder binnelands waarde tot sy produk toe te voeg eerder as om dit onverwerk uit te voer.

“Ons wag intussen op die regering se aankondiging oor sy planne met die vermenging van biobrandstof met petro­leumbrandstof wat volgens die konsepwetgewing reeds in Oktober vanjaar moet gebeur.”

Please follow and like us: