Sterkte

Meiringspoort in die Wes-Kaap is steeds gesluit en verskeie voertuie was vasgekeer nadat die Grootrivier Maandagaand afgekom het.

’n Greyhound-bus met 72 persone aan boord was in die poort vasgekeer, asook ’n vragmotor, ’n polisievoertuig en nog ’n voertuig met buitelandse toeriste.

Na bewering was die vragmotor en bus in ’n botsing betrokke weens water wat oor die pad gestroom het. RSG het laataand berig 24 passasiers is lig beseer in die botsing.

Nooddienspersoneel by die ingang na die poort aan De Rust se kant sê passasiers  het op die dubbeldekkerbus se dak geklouter en vandaar in ’n boom geklim om die veiligheid van die kranse te bereik. Toe die watervlak omstreeks 23:00 ietwat gesak het, het die passasiers teruggeklim in die bus.

Dit het deurentyd gereën.

Reddingspersoneel van Eden Brand en Redding, Oudtshoorn Brandweer, EMR, die polisie en provinsiale verkeer was op die toneel. Omstreeks 23:00 het die reddingspersoneel lank beraadslaag, maar besluit om nie die vasgekeerde persone in die donker te probeer bereik nie.

“Dit is te gevaarlik om in die donker deur die malende water te probeer ry,” het  Mornay Thyssen, hoof van Oudtshoorn Brandweer, op die toneel gesê.

Volgens Thyssen sal reddingspogings bemoeilik word deur dik modder en plantmateriaal wat in die poort afgekom het. Die voertuie sal nie self deur die modder kan ry nie. Opruimingswerk sal minstens twee dae duur voordat die pas weer oopgestel kan word, sê hy.

Swaar reën tussen Klaarstroom en Beaufort-Wes het daartoe gelei dat die Grootrivier afkom. Talle voertuie het weerskante van die poort opgedam, terwyl sommige oor Willowmore na hul bestemming gereis het. Meiringspoort bly gesluit tot verdere kennisgewing.

Please follow and like us: