Sa begin mielies invoer .

Suid-Afrika voer vir die eerste keer in 11 maande weer mielies in nadat die ergste droogte sedert 1992 plaaslike oeste verniel het.

Volgens Reuters het Suid-Afrikaanse handelaars bestellings geplaas om ’n onbekende hoeveelheid geelmielies vir dierevoer vanuit Argentinië in te voer.

Dit is tans goedkoper vir veeboere in die Wes-Kaap om mielies vir veevoer in te voer as om dit teen die huidige hoë pryse van die binneland af te vervoer.

Die plaaslike prys van witmielies het reeds vanjaar met 27% gestyg, terwyl geelmielies nou 13% duurder is.

Laat reën aan die einde van Februarie was nie genoeg om oeste te red waar die mielies reeds bestuif is nie, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Hy het aan Bloomberg gesê die droogte het heelwat oeste in die Vrystaat en Noordwes beskadig. Verlede jaar het tot 64% van die land se mielie-oes uit dié provinsies gekom.

“Die kommerwekkende faktor is dat die mieliekoppe nie pitte gevorm het nie. Hierdie droogte se gevolge kan ons volgende jaar eers tref, want boere sal nie begin om hul lande te bewerk indien daar nie voldoende vog in die grond is nie.”

Graan SA bereken dat die land tot in Maart 2016 934 ton geelmielies sal moet invoer uit lande soos Argentinië en die Oekraïne.

Die Nasionale Oesskattingskomitee verwag dat die land in die huidige seisoen 9,67 miljoen ton wit- en geelmielies sal oes. Onlangse reën kan die volgende voorspelling op 25 Maart met sowat 10 miljoen ton verhoog, sê De Villiers.

Die beperkte internasionale beskikbaarheid van witmielies maak dit onwaarskynlik dat dié variëteit ingevoer sal word, wat pryse kan laat styg indien daar ’n tekort ontstaan.

Volgens De Villiers is daar nog nie ’n krisis met die verskaffing van witmielies nie en Graan SA verwag ondanks die droogte steeds ’n surplus van 100 000 ton witmielies, wat in die binnelandse aanvraag sal voldoen.

Mexiko is die enigste ander groot produsent van witmielies in die wêreld, en Suid-Afrika is die grootste witmielieprodusent in Afrika. Byna al die ander mielies wat op die wêreldmark verhandel word, is geelmielies.

Please follow and like us: