Die mielie-oesskatting vir die 2015-’16-bemarkingsjaar is 31% laer as verlede seisoen, weens die wydverspreide droogte in Januarie en Februarie.
Hoewel reën die laaste paar dae oor die Vrystaat heen uitgesak het, het dit te laat gekom. Verdere reën word ook nie binnekort verwag nie.
“Indien dit nou baie sou reën, sou dit in elk geval te laat wees,” sê prof. Kobus Botha, weerkenner. Hy sê ’n redelike kans vir donderbuie oor die provinsie bestaan oor die naweek en Maandag, maar daarna verskraal dit baie.
Volgens Botha het reën die laaste tyd kol-kol in die Vrystaat geval. Michael Nethavhani, weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê in die Oos-Vrystaat bestaan ’n 60%-kans op reën oor die volgende dae.
Volgens die oesskattingskomitee gaan die mielie-oes vir die 2015-’16-bemarkingsjaar slegs 9,665 miljoen ton beloop – 4,696 miljoen ton vir witmielies en 4,969 miljoen ton vir geelmielies. Vir die 2014-’15-bemarkingsjaar was die opbrengs van die hele mielie-oes 5,3 ton/ha, wat ’n algehele produksie van 14,25 miljoen ton opgelewer het.
Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, sê dit is baie duidelik “ons gaan beslis nie ’n uitvoerbare surplus hê nie. Hoe verder die seisoen vorder, hoe minder kan reën die oes positief beïnvloed. Geen of min reën kan egter die toestand nog verder verswak. Vanjaar en aanstaande jaar gaan baie moeilike seisoene vir die land wees. Die verwagte swak someroeste gaan baie negatief inwerk op die landbousektor en verbruikers gaan duur vir basiese voedsel betaal.”
Die afname in mielieproduksie kan daartoe lei dat Suid-Afrika ongeveer 1,65 miljoen ton mielies sal moet invoer. Dit gaan geweldige druk op die land se infrastruktuur plaas.
In die komende seisoen sal die vraag en aanbod van witmielies uiters knap wees.
Witmielies se prys het tot invoerpariteit gestyg en die afgelope week weens winsneming, mielielewerings en beter weervooruitsigte begin daal. Die verwagting is pryse gaan die res van die bemarkingsjaar na invoerpariteit styg.
“Ons het volle vertroue in die oesskattingskomitee se wetenskaplike metodes om die oes te skat. Dit bly egter ’n skatting en met dié dat die weer steeds ’n belangrike rol kan speel, veral aan die negatiewe kant, is die situasie steeds onseker,” het De Villiers gesê.
Louw Steytler, Graan SA se voorsitter, sê hulle is skrikkerig vir die maatskaplik-ekonomiese gevolg van die droogte en die uitdaging vir landbou om weer surplusse te produseer waaraan die bedryf die afgelope 20 jaar gewoond geraak het.