Droogte

Boere in droogtegeteisterde gebiede in Noordwes kan die seisoen tot ’n 60% kleiner oesopbrengs as normaalweg verwag.

Volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, versleg dié situasie by die dag.

Plase in die Lichtenburg-, Sannieshof-, Delareyville-, Mareetsane- en Kameel-omgewing word veral erg geraak.

“Goeie reën nou gaan nie gewasse red nie, maar dit kan ’n groot verskil maak in winterweiding, want die hitte, min reën en veldbrande het weiding drasties verminder.”

Willem Pretorius, wat naby Kameel met grondboontjies en mielies boer, het vandeesweek gesê toestande is kritiek en sommige boere verwag geen oes nie, al kry hulle binnekort goeie reën.

“ ’n Groot deel van my oes is daarmee heen. Sommige ouens sny reeds die bietjie wat gegroei het af vir kuilvoer.

“Die meeste boere het nie versekering nie nadat maatskappye onttrek omdat ons ná verlede seisoen se droogte as ’n hoërisiko-gebied gesien word. Hier kom groot ellende. Massas ouens gaan dit nie maak nie.”

Du Toit sê die droogtesiklus waarin die provinsie hom bevind, het ’n kumulatiewe uitwerking, ook betreffende skuld.

Verlede seisoen se droogte is deur sommige as die ergste sedert 1933 beskryf.

“Ons hoop landboumaatskappye is tegemoetkomend,” sê Du Toit.

“Ons praat ook met die staat, want hulle behoort verantwoordelikheid te aanvaar om die landbou te stabiliseer. Ramphulp kan verligting bring, maar net vir veeboere omdat dit nie op saaiboere van toepassing is nie. Die regering se kriteria vir sulke hulp is egter ook gebrekkig.

“Ons beweeg na ’n situasie van toenemende onsekerheid oor voedselsekerheid.”

Du Toit voorspel Noordwes gaan toenemend veewêreld word.

Die hitte en min reën veroorsaak dat gewasse vrek of nie behoorlik ontwikkel nie. “Die proses van fotosintese en opname van voedingstowwe kan nie behoorlik plaasvind wanneer daar nie genoeg grondvog is nie.”

Du Toit sê die huidige ekonomiese toestand knel boere ook.

“Winsmarges is kleiner omdat insetkoste vinniger as die prys van produkte styg.”

Please follow and like us: