In Maart vanjaar het die invoertarief op koring amper drievoudig verhoog, van R157 tot R461 per ton, in ’n poging om die kwynende plaaslike bedryf van ondergang te red.

Welkome reën het sedert verlede week wyd oor die Wes-Kaap geval, tot die verligting van koringboere wat vroeër in kurkdroë grond begin plant het.
Volgens Andries Theron, vise-president van Graan SA en koringboer van die Swartland, is boere in die Wes-Kaap verheug oor die uitkoms.
“Die huidige reën is nog nie te laat om ’n goeie oes vanjaar te verkry nie. Ons het die afgelope jare bietjie bederf geraak met goeie vroeë reën, en dis net menslik om bekommerd te raak as die reën laat kom, want ons sit baie geld in die grond.”
Vol graanskure
Lae koringpryse is steeds die voorland vir die wêreld se koringboere, ook in Suid-Afrika (lees ook hieronder hoe SA koringboere vasbrand).
Hoewel daar ’n afname in wêreldproduksie is, is die wêreld se graanskure vol, en dié oorskot druk steeds pryse af, volgens die Australiese navorsingsburo vir landbou-ekonomie en -wetenskap (Abares) se jongste verslag.
Die gemiddelde uitvoerprys van winterkoring in die VSA is tans $230 per ton. Dit is heelwat laer as die voorspelling wat die Australiese navorsers in Maart gemaak het, van $265 per ton, en die prys van $266 per ton wat ’n jaar vroeër behaal is.
Daar word beraam dat wêreldwye reserwes aan die einde van 2014-’15 met 5,3% sou styg en Abares verwag dat produksie in die volgende oesjaar met minder as 1% tot 715 miljoen ton sou inkrimp.
Die groot oorskot het veroorsaak dat termynkontrakte vir koring vanjaar reeds met 16% op die Chicago Board of Trade (CBOT) gedaal het, terwyl die huidige groot koring- en soja-oeste veroorsaak dat wêreldvoedselpryse tot die laagste vlak sedert 2009 gedaal het.

Die VSA se departement van landbou het sy vooruitsig vir wêreldproduksie van koring en sojaboon verlede week aangepas en ook gesê dat beskikbare mielievoorraad meer is as wat voorheen voorspel is.
Die Bloomberg-landbou-indeks is vanjaar ook 13% laer as verlede jaar.
“Die wêreldaanwyser het sedert 2014 aansienlik gedaal. Dit weerspieël verbeterde vooruitsigte vir die koringoes van 2015-’16 en beperkte aanvraag vir koring uit die VSA weens ’n sterker dollar en voldoende voorraad elders in die wêreld,” lui die Abares-verslag.
Die navorsingsburo verwag dat hierdie faktore steeds druk op pryse sal plaas in die komende jaar.
Koringprys in rand daal ook
In Suid-Afrika het die plaaslike koringprys vir lewering in Julie teen die einde van verlede week begin daal in reaksie op die internasionale daling en teen Maandag steeds afwaarts beweeg tot ’n vlak van R3 871 per ton, nadat dit aan die begin van verlede week nog teen R3 945 per ton verhandel het.
Suid-Afrika se nasionale koringaanplanting het die laaste twee dekades stelselmatig afgeneem, sodat meer as die helfte van ons plaaslike koringgebruik deesdae ingevoer moet word.

Oorskotte op die wêreldmark en regeringsubsidies aan boere in koringuitvoerlande veroorsaak dat die plaaslike bedryf sukkel om met goedkoper ingevoerde koring mee te ding.

Please follow and like us: