Omie trap die petrol dat ons vinniger kan ry” moet liefs nie meer gesing word nie, want die petrolprys gaan oor net meer as ’n week wéér met minstens 50c per liter styg.
Volgens syfers van die bedryfsliggaam vir vulstasies, die Fuel Retailers Association, was die onderverhaling op 95-oktaan-petrol Maandag meer as 50c per liter. Op 93-oktaan was dit meer as 39c per liter.
Diesel sal nie so skerp styg nie en ’n onderverhaling (dus styging) van tussen 17c en 18c per liter op die groothandelprys het Maandag gegeld. (Nuwe syfers word nie Dinsdag uitgereik nie omdat dit ’n openbare vakansiedag is.)
Dié syfers kan nog daagliks wissel soos wat die rand-dollar-wisselkoers en ’n mandjie internasionale brandstofpryse wat die Sentrale Energiefonds meet, verander. Die oorsigtydperk vir Julie geld van 29 Mei tot 25 Junie.
Die brandstofpryse vir Julie word volgende Vrydag, 26 Junie, aangekondig en word op 1 Julie van krag.
Al voel dit dalk nie so nie, sal 95-oktaan-petrol selfs ná dié styging goedkoper wees as in April 2014, toe dit ’n rekordprys van R14,39 (in Gauteng) en R13,98 (aan die kus) gehaal het.
In 2015 het die petrolprys nou al 2 maande gedaal (Januarie en Februarie), 3 maande gestyg (Maart, April en Junie) en 1 maand onveranderd gebly (Mei).
Die kruks van die saak was egter dat die verhogings van die afgelope jaar bietjie skerp was, onderskeidelik 96c (Maart), R1,62 (April, maar R1,60 aan die kus) en 47c (Junie).
April se skerp styging is deels omdat die tesourie se jaarlikse verhoging van die brandstof- en Padongelukfondsheffing ingeskop het.