Petrolprys September 

En dít is die storie van die rand en die petrolprys vir September: As die rand nie so kwaai getuimel het die afgelope maand nie, sou die petrolprys in September nou reeds met 76c gedaal het.
Maar nou ís die rand swak – die swakste in meer as 13 jaar teenoor die dollar – en Suid-Afrikaners sal nie sóveel voordeel trek uit die baie lae oliepryse nie.
Lees ook: ​Ongelukkige 13 spook by rand (http://www.netwerk24.com/sake/ekonomie/2015-08-18-ongelukkige-13-spook-by-rand)
Die goeie nuus is dat daar nietemin na alle waarskynlikheid steeds ’n stewige daling in die petrolprys sal wees.
Teen Maandagmiddag was die daaglikse gemiddelde oorverhaling op 95-oktaan-petrol 55c per liter en op die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% 55c per liter. (Die swak rand keer dus in dié stadium dat die pryse met nóg 21c vir 95-oktaan-petrol en nóg 18c vir alle grade diesel daal.)
Die oorsigtydperk wat die Sentrale Energiefonds vir September se brandstofpryse in berekening bring, duur van 31 Julie tot 27 Augustus. Daar is dus nog sowat tien dae oor waarin die kombinasie van ’n mandjie internasionale oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers ’n uitwerking op die prys kan hê.
Olieprys daal
Dinsdag teen 09:12 het ’n vat Brent-ruolie $48,43 gekos. (Die laagste prys nóg vanjaar is $45,13 wat op 13 Januarie gehaal is.)
Die Automobiel Assosiasie (AA) waarsku dat as internasionale oliepryse stabiliseer, Suid-Afrikaners oor die volgende maande aan “die grille van die rand” blootgestel sal wees.
’n Kombinasie van trae vraag en ’n ooraanbod van olie op die wêreldmark verklaar die lae olieprys.

Dié lande sukkel
Intussen het Salah Khebri, Algerië se minister van energie, Maandag ’n beroep gedoen op álle olieprodusente om hul produksie te verminder sodat pryse kan stabiliseer.
Die 12 lidlande van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) produseer sowat 40% van die wêreld se olie. Lande soos Rusland en die VSA is onder die res van die groot olieprodusente.
Khebri sê dit sal nie genoeg wees dat nét Opul sy produksie verminder nie, maar Algerië probeer minstens ander Opul-lede oortuig om produksie op ’n gekoördineerde wyse te verminder. Algerië sukkel – soos Angola, Venezuela, Libië en ander kontantarm lande – omdat die meerderheid van hul staatsinkomste uit die verkoop van olie en gas kom.

Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste produsent, skop egter vas omdat dié land die markaandeel wil behou. Die hoop is dan dat Amerikaanse skaliegasmaatskappye, wie se koste hoër is, uit die mark gedruk kan word wanneer pryse weer styg

Please follow and like us: