Petrolprys daal

In ’n week vol nare syfers – oor ekonomiese groei, die rand en meer – was daar darem Vrydag ’n ligstraaltjie: Die petrolprys daal eerskomende Woensdag met 69c per liter.
Dit werk uit op R34,50 per tenk van 50 liter.
Dit is die derde agtereenvolgende daling in die petrolprys en beteken ’n liter 95-oktaan-petrol kos jou nou R12,37 in die binneland en R12,14 aan die kus.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) waarsku egter dat dit moontlik die laaste daling in die petrolprys is. Dít omdat dit lyk asof die rand verder kan verswak én omdat internasionale brandstofpryse dalk nie nog verder sal kan daal nie.
Die prys van ruolie het onlangs die laagste vlakke in ses jaar gehaal en daar is geen sekerheid of dit nog verder sal kan daal nie. “As of wanneer die olieprys afplat of styg, sal motoriste heeltemal blootgestel wees aan enige randswakheid,” sê die AA in ’n verklaring.
Volgens die departement van energie sou die petrolprys met selfs 20c méér gedaal het as die rand die afgelope maand nie soveel verswak het teenoor die dollar nie.
Diesel: Die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% word 55c per liter goedkoper en van 0,05% 51c per liter.
Gas: Gas – dis nou as jy dit in die hande kan kry – word R1,15 per kilogram goedkoper. Dit was ’n moeilike winter vir mense en ondernemings wat gas gebruik weens instandhouding by verskeie raffinaderye, maar dinge begin nou beter lyk vir die gasvoorraad.

Please follow and like us: