NOK verwag kleiner koringoes

Droogte het nie net vanjaar sy merk op die somergraan-oeste gelaat nie, maar die koringoes wat eersdaags in die Wes-Kaap gestroop word, sal na verwagting ook heelwat kleiner wees.

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het sy skatting van die koringoes met 3,3% tot 1,64 miljoen ton verlaag weens die droogte in die Swartland, waar tot twee-derdes van die land se koring verbou word.

Volgens André Kirsten, ’n koringboer van Darling en lid van Graan SA se bestuur, is vanjaar die droogste jaar op rekord vir die Swartland.

“Daar is plek-plek totale misoeste aangeteken, terwyl daar weer ander dele van die Swartland is waar die sukses van die oes op ’n naaldpunt gebalanseer is, en reën binne enkele dae nog ’n verskil kan maak.”

Vanjaar se verwagte koringoes is die laagste sedert die 2011-seisoen. Kirsten verwag dat die skatting selfs meer kan inkrimp en sê die uitwerking van die droogte is veel erger as wat algemeen besef word.

“Ek self verwag ’n gemiddelde opbrengs van net een ton per hektaar, waar ek gewoonlik gemiddeld drie ton per hektaar oes.”

■ Die NOK het die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes met 1% opgestoot na 9,924 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is onveranderd gelaat op 2,6 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 3,75 ton per hektaar is.

Die produksieskatting van witmielies het met 1,1% of 52 900 ton toegeneem na 4,7 miljoen ton, terwyl die produksieskatting van geelmielies met 1% of 50 250 ton na 5,2 miljoen ton verhoog is.

Hierdie sal ook die kleinste mielie-oes sedert 2007 wees toe die land 7,1 miljoen ton geproduseer het

.http://www.netwerk24.com/sake/landbou/2015-09-30-nok-verwag-kleiner-koringoes

Please follow and like us: