Insurance

Koring Boere en hulle verflenterde implemente

Koringboere produseer met verflenterde implemente en verkoop aandele in landbou-ondernemings net om kop bo water te hou.
Dít was die kommerwekkende prentjie wat op Graan SA se jaarkongres in Bothaville in die Vrystaat van die kwynende Suid-Afrikaanse koringbedryf geskets is.
“Tot 95% van die koringoes in Suid-Afrika is reeds ’n maand nadat dit geoes is nie meer in die hande van die produsente nie. Dit is omdat hulle dadelik hul rekeninge moet betaal,” sê Cobus Bester, ’n koringprodusent van Moorreesburg in die Swartland.
Hy het ’n mosie by die kongres ingedien dat dringend ondersoek na die winsgewendheid en lewensvatbaarheid van die bedryf ingestel word.
“In 1982 is 2 miljoen ha koring aangeplant in Suid-Afrika en ons was selfvoorsienend. Tans word daar net 500 000 ha aangeplant en ons voorsien slegs in die helfte van die land se behoeftes.”
Hy sê insetkoste het geweldig hoog geraak terwyl die prys wat Safex aanbied, boere nie toelaat om winsgewend te produseer nie.
“In die Swartland het ons nou tien goeie jare gehad, daar was geen misoeste nie. Tog gaan boere se geldelike posisie agteruit en hulle moet van hul aandele in landbou-ondernemings verkoop om te oorleef. Wat sal gebeur indien ons nou ’n misoes of ’n droogte kry soos hier bo?” (Die droogte in die mielieproduserende gebiede.)

Hy sê die gelykbreekpunt vir ’n produsent in die Swartland is nou 3 t per hektaar en die gemiddelde oes is ook 3 t per hektaar.
“Met ander woorde, tot die helfte van die produsente boer teen ’n verlies en die ander helfte maak ’n klein wins.
“Dit beteken dat die helfte wat nie winsgewend is nie, sal moet gaan. Hulle teer in dié stadium op hul implemente en vervang niks nie.”
Sy mosie, wat wye steun op die kongres ontvang het, vra dat ondersoek ingestel word na aspekte soos:
■ ’n Meer regverdige graderingstelsel vir Suid-Afrikaanse koring,
■ Dat die hoë koste van bemesting en chemiese stowwe verlaag word; en
■ Dat ’n meer billike tariefstruktuur ingestel word, met inagneming dat Suid-Afrikaanse koringboere moet meeding teen ingevoerde koring wat met die hulp van subsidies geproduseer word.
“Is ons tariefstruktuur in Suid-Afrika so opgestel dat ons selfvoorsienend kan wees en wat sou die prys van koring gewees het as daar geen subsidies vir koringprodusente in die VSA of Europa was nie?” wil Bester weet.
Hy vertel dat hy in Desember deur ’n groep Franse koringboere besoek is wat geen geheim daarvan gemaak het dat hulle geen geld maak uit die koring wat hulle plant nie. Hul wins lê by die subsidie van €20 wat hulle vir elke hektaar koring ontvang.

“As koringprodusent moet ek aanpas by die huidige prysmeganisme en ek hoop nie die besluitnemers wag totdat daar een oggend nie meer brood op die winkelrakke is voordat hulle die probleem pak nie.”
Netwerk 24 .

Please follow and like us: