Transnet beplan verskeie venootskap-inisiatiewe met die private sektor om veeldoelige vragwaens vir die landbousektor te ontwikkel, sodat meer landbouprodukte per spoor vervoer kan word.
Dit is deel van sy plan om om spoorvragvervoer in die land te verbeter. Van 2012 tot 2014 het die totale vragvervoer volumes met 4,7% gegroei. Die algemene vrag, waar die oorskakeling van padvervoer na spoorvervoer ingebed is, het die volumes in ton met 8,6% gegroei.
Mnr. Ravi Nair, waarnemende uitvoerende hoof van Tansnet se vragvervoer, het gesê hulle sal in die volgende paar maande ’n pad-na-spoor oplossing van stapel stuur. Dit neem die vorm aan van ’n vragmotorwa wat motorbande het vir padgebruik, en staalwiele vir spoorgebruik. Nair, wat ’n voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gemaak het, het aangedui dat die tender vir die vragmotorwaens reeds drie weke gelede aan plaaslike organisasies toegestaan is.
“Ons is baie opgewonde hieroor want ons ding nie mee met vragmotors nie, maar werk saam met hulle. Die vragmotors sal die kort afstande en ons die lang afstande doen.” Hy het gesê hoewel dié gespesialiseerde waens van Europa ingevoer kan word, is daar besluit om dit eerder plaaslik te vervaardig, wat dan ook werk kan skep.
Transnet se 2013/’14 syfers wys dat die oorskakeling van die vervoer van landbouprodukte en groot maat vloeistowwe vanaf pad na spoorvervoer bykans staties was. Die verplasing het van 11,4 miljoen ton in 2013 na 11,1 miljoen ton in 2014 gedaal. Die landbousektor maak hoofsaaklik van Transnet se taklyne gebruik om goedere per spoor te vervoer.
In die laaste kwartaal van die huidige boekjaar sal Transnet die mark toets om te bepaal hoe hy sy taklyne vir die landbousektor moet aanpas, het Nair gesê. Wanneer die maatskappy se nuwe lokomotiewe in werking is, sal daar 700 van die ou lokomotiewe beskikbaar wees wat spesifiek vir die spoorlyne aangewend word waar landbouprodukte vervoer word.
Me. Raisibe Lepule, bestuurshoof van Transnet se bestuurskantoor vir resultate, het gesê die aanpassing van die taklynstrategie verteenwoordig een van die onmiddellike geleenthede om landelike ekonomieë te verbeter. “Dit is nie net die die lyn wat operasioneel sal wees nie, maar die bedrywighede wat lei tot die vervoer van die vrag wat die landelike ekonomieë sal laat groei. Ek praat van die herlewing van die landbou, die oprigting van koelstore in landelike gebiede. Dit sal landelike ekonomieë ’n hupstoot gee,” het Lepule gesê.
Me. Dipuo Letsatsi-Duba, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, het Transnet ingelig dat Vrugte Suid-Afrika nie gelukkig is oor die ondersteuning wat hy van hom kry nie. Sy het gesê ’n vergadering sal belê word waar Transnet en Vrugte Suid-Afrika voor die komitee sal verskyn.

Transnet wil meer landbouvrag dra.
Please follow and like us: