Reën te laat vir vanjaar se mielie-oes

Reën te laat vir vanjaar se mielie-oes

Die son sak oor ’n mielieland naby Bultfontein. Foto: Vida Booysen

Die reën het te laat gekom om die huidige mielie-oes te red.

Dít blyk uit die jongste oesskatting van ’n totale mielie-oes van 9,666 miljoen ton vir vanjaar wat Woensdag deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekendgemaak is.

Dié skatting is net 0,01% of 1 060 ton meer as die vorige skatting van 9,665 milj. ton wat ’n maand gelede uitgereik is. Dit is ook laer as die konsensus van tussen 9,8 en 10 miljoen ton van ’n peiling wat Reuters vooraf onder ’n groep ontleders gedoen het.

Vanjaar se geraamde oes is 32% kleiner as die 2014-oes, wat die grootste oes in 33 jaar was. Vroeër is die huidige droogte in die somersaaigebiede van die Vrystaat en Noordwes as die ergste sedert 1992 bestempel.

Lees nog:

 ​SA begin mielies invoer ná droogte

 Staal jou maar vir duurder kos

Hoewel taamlik wydverspreide reën in die tweede helfte van Maart in sommige distrikte geval het, meen ontleders dit kan nie meer enige noemenswaardige positiewe uitwerking op die huidige mielie-oes hê nie.

“Die reën het gekom toe mielies se bestuiwingsfase reeds verby is, maar ons kan wel die voordeel van die reën op soja- en sonneblomoeste sien, wat effens hoër as ’n maand gelede is,” sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Graan SA.

Die produksieskatting van witmielies is 4,639 miljoen ton, 1,21% minder as die vorige skatting. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,027 miljoen ton, wat 1,17% meer is as die vorige skatting.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 578 600 ton, wat 0,75% hoër is terwyl die sojaboon-oes na verwagting 942 850 ton sal wees, wat 0,48% hoër is as die vorige skatting.

Please follow and like us: