grain

Prys van mielies gaan met tot 30% styg

Die prys van mielies gaan met tot 30% styg as die droogte in groot dele van die mieliestreek nie nóú verlig word nie, het Graan SA Vrydag gesê.

Mielies het reeds skade opgedoen weens die gebrek aan reën in die noordweste van die Vrystaat en in Noordwes. Mielies in Mpumalanga en Oos-Vrystaat is “in die algemeen in ’n goeie toestand”, maar ook dié streke het dringend reën nodig.

Die afgelope week het die prys van witmielies reeds met 13% gestyg, die grootste styging sedert Maart verlede jaar.

As dit binne die volgende tien dae reën, sal die oes “gemiddeld” wees, sê Graan SA, maar as dit glad nie reën nie, sal dit “tragiese” gevolge vir die landbou en plattelandse ekonomie hê. Dit kan ook oor die volgende jaar hoë kospryse meebring.

Verbruikers is reeds besorg oor gemiddelde kospryse, wat in Desember jaar op jaar met 7,2% gestyg het, meer as die inflasiekoers van 5,3%.

“Goeie reën oor die volgende tien dae kan die rigting verander waarin die oes op die oomblik gaan, maar dit lyk nie op die oomblik goed nie,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, in ’n verklaring gesê.

Geen reën word oor die volgende ses dae vir Kroonstad in die Noordwes-Vrystaat, Bethlehem in die Oos-Vrystaat, Lichtenburg en Klerksdorp, albei in Noordwes, voorspel nie.

Inteendeel, baie warm weer van tot 37 grade Celsius, word plek-plek voorspel – presies wat die mielies, wat bestuif moet word, nie nou nodig het nie.

Die prys van alle voedselsoorte styg gewoonlik ’n paar maande nadat mieliepryse begin styg omdat mielies vir veevoer gebruik word, asook in verwerkte voedsel.

Intussen is 11 distrikte van KwaZulu-Natal, waar meer as 80% van die land se suiker verbou word, tot rampgebiede verklaar, volgens David Wayne, hoof van die Suid-Afrikaanse Suikerkwekersvereniging.

Veeboere in die Noord-Kaap oorweeg dit ook om aansoek te doen dat ’n rampgebied verklaar word. Lees ook ​Noord-Kaapse boere benoud oor droogte.

Please follow and like us: