Prys in greep van ystererts-oorlog

Prys in greep van ystererts-oorlog

Woensdag 10 Desember 2014 05:00

Die prys van ystererts sal na verwagting verder daal omdat die opgehoopte voorraad laekoste-erts weens die swak vraag nie weggewerk word nie.

JPMorgan Chase het sy vooruitsigte vir dié hulpbron tot in 2017 tot negatief afgeskaal. Dit het die pryse van mynboumaatskappye se aandele afgedruk.

Die gemiddelde prys van ystererts kan in 2015 op $67 per ton, 24% laer as wat aanvanklik voorspel is, wees en in 2016 23% laer op $65, sê die bankgroep. Die prys was tot dusver vanjaar op gemiddeld $98,95 per ton, volgens Metal Bulletin. 

Ystererts se grootste jaarverlies in minstens vyf jaar is die gevolg van groter produksie by groot myngroepe, soos Rio Tinto, BHP Billiton en Vale, wat tot ’n oormaat voorraad gelei het. Terselfdertyd het ekonomiese groei (en die vraag na staal, waarvoor ystererts gebruik word) in China begin afneem. Die groter myngroepe het besluit om selfs meer te produseer, wat pryse afgedruk en tot die sluiting van ’n paar hoëkoste-produsente gelei het.

“Die enigste manier waarop die oortollige voorraad verklein kan word, is as die laekoste-produsente hul groeiteikens verlaag, maar dit is onwaarskynlik,” lui JPMorgan se verslag. 

Die aandeelprys van BHP Billiton, die grootste gediversifiseerde myngroep ter wê­reld, het in Sydney met 3,9% gedaal tot die laagste sedert Maart 2009. Dit het vanjaar al met 24% gedaal weens die laer ruolie- en ysterertspryse. 

BHP Billiton is nie van plan om produksie te verlaag nie. “As die groter volumes nie van ons kom nie, sal dit van ’n ander een kom,” sê Jimmy Wilson, BHP se ysterertshoof. 

Volgens ’n onlangse verslag van Bank of America Merrill Lynch lyk dit of die groot produsente die hoëkosteprodusente probeer “uitskud” om verlore markaandeel te herwin.

Ekonomiese groei in China, wat tot 67% van die wêreld se verskeepte voorraad ystererts per jaar koop, sal vanjaar na verwagting die laagste sedert 1990 wees. Die land se sentrale bank het rentekoerse verlede maand vir die eerste keer sedert 2012 gesny en ontleders van HSBC en Barclays meen daar sal voor middel 2015 nóg twee rentekoersdalings wees.

– Bloomberg

Please follow and like us: