Droogte plek-plek ergste in meer as 20 jaar

Terwyl boere Woensdag landerye met verdorde mielies hier afgesny het, is misoeste in dié omgewing as die ergste in meer as 20 jaar beskryf.

Johan Rautenbach het gesê hy sny sy mielies in die grond in, omdat hy niks anders daarmee kan maak nie.

“Die mielies dra geen koppe nie, daar is geen voedingswaarde vir kuilvoer nie.”

Twee weke gelede het boere nog gehoop op reën wat hul landerye kon red, maar buiten ’n paar druppels wat verspreid geval het, het voldoende reën nooit gekom nie.

Rautenbach sê net wat insetkoste betref, verloor hy R8 000 per hektaar. By die graansilo, waarvan hy ’n mede-eienaar is, ontvang hulle gewoonlik 45 000 ton mielies per seisoen. Hulle verwag om vanjaar ’n skamele 10 000 ton te ontvang.

“Meer as die helfte van die oeste is daarmee heen. Indien dit nie binne die volgende twee weke reën nie, is twee-derdes daarmee heen,” sê hy.

Op klein kolle in sekere gebiede waar buie verspreid uitgesak het, is oeste baie mooi.

“Die droogte is selektief. Die een boer se mielies is pragtig en ’n ander s’n droog,” sê hy.

Rautenbach verwag die prys van witmielies op Safex gaan ver bo R3 000 per ton verhandel.

Hy sê die droogte is ’n ramp waarvan baie mense nie die afmetings heeltemal besef nie.

Hy boer ook met beeste. Vir die diere het hy net ’n maand se weiding oor.

“Dan is dit verby. Dan moet ons voer of verkoop.”

Tati Schoeman, wat naby Rautenbach boer, sê boere se “beste, beste grond” het niks gelewer nie.

Hy het vanjaar se droogte met die droogte van 1992 vergelyk.

“Dit was ook erg, maar toe het ons darem staatshulp gekry.”

Schoeman sê mielies kan temperature van 32°C hanteer. Maar toe word dit 37°C en 38°C.

“Dié ding tref die boere nou en dit tref die dorpe se ekonomie ook.”

Hy sê hoewel boere verlede jaar ’n goeie jaar beleef het, het hulle twee jaar gelede ook ’n misoes gehad. “Vanjaar het ons ’n katastrofiese misoes. Dit tas jou menswees aan. Jy kry nie ’n boer wat nie ’n geloofsmens is nie. Ons leef in geloof.”

 

Please follow and like us: